Oostelike Sinode
Bedieninge » Aanbidding » Kerklike Jaar » LYDENSTYD
LYDENSTYD
2011/03/04
LYDENSTYD
Lydenstyd is eers sedert die vierde eeu as 'n seisoen van die kerklike jaar gevier. Dit begin met Aswoensdag (die sewende Woensdag voor Paasfees) en eindig ná die Groot Lydensweek op Stil Saterdag (die dag voor Paasfees).
In Markus se Evangelie lees ons dat Jesus, ná die verheerliking op die berg, vir sy dissipels opdrag gegee het om dit wat hulle gesien het "vir niemand te vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie" (9:9). Daar word dan vertel dat hulle hul aan hierdie opdrag gehou het, maar onder mekaar geredeneer het "oor wat dit beteken as Hy sê dat die Seun van die mens uit die dood sal opstaan" (vers 10). Hierna vertel Markus hoe Jesus die dissipels onderrig het terwyl hulle Jerusalem toe reis. Die gedeelte oor Jesus se leer is in gemeentes gelees in die plek van lesings uit Deuteronomium wat destyds tydens die sinagogebyeenkomste gelees is. Markus het die vroeë Christene van materiaal voorsien, sodat voornemende dopelinge teen Paasfees, wanneer hulle gedoop sou word, goed onderrig kon wees. Sy "kategese" eindig met die woorde: "Bly waaksaam!" (13:37). In hoofstuk 14 en 15 vertel Markus van Jesus se laaste dae, sy sterwe en hoe hy in die graf neergelê word (15:47).
Die vroeë Christene se gebruik om Jesus se lyding eers net in die week voor Paasfees te vier, is met die verloop van tyd tot 'n hele seisoen uitgebrei. 'n Enkele nagwaak is stelselmatig tot veertig dae se vas, boetedoening en ander asketiese praktyke verleng. Dit is op die ses Sondae, wanneer die opstanding gevier is, onderbreek. 'n Tydperk waarin die betekenis van Jesus se optrede en leer bedink is, is algaande omskep in een wat deur tekens van rou en droefheid gekenmerk is, eerder as in 'n weg van waarheid en lewe.
Dit is hierdie gebruike waarteen onder andere Martin Luther in opstand gekom het. Ons is opnuut bewus gemaak van God se genade en leef dááruit. In Lydenstyd kan ons die betekenis van ons nuwe identiteit as Jesus se volgelinge en die nuwe lewe bedink en inoefen. Ons antwoord op God se vrye guns en leef uit dankbaarheid. Ons pleit nie om vergifnis nie, maar leef daaruit. In die tekste vir vanjaar se Lydenstyd leer ons vir Jesus ken, wat ons van 'n godsdiens van voorwaardelikhede, onsekerheid en vrese bevry. Ons word uitgedaag om vir dieselfde mense en dinge waarvoor Hy 'n passie gehad het, 'n passie te ontwikkel en brandend te hou terwyl ons in sy voetspore stap en by hulle betrokke raak.
GEBRUIKE, SIMBOLE EN KLEURE IN LYDENSTYD
Die bekendste simbool vir Lydenstyd is die kruis. Spykers, 'n doringkroon, 'n sweep, 'n purper (of pers) kleed, en 'n groot wit kers met doringdraad daarom gedraai, word ook wyd gebruik. Aan die begin van die seisoen kan as en op Palmsondag, palmtakke ook gebruik word. 'n Pad en/of 'n oop Bybel kan gebruik word om die weg van waarheid en lewe waarin ons onderrig word, voor te stel. Dit gaan mettertyd oor in Jesus se lydensweg, wat met foto's, sketse of voorstellings van die Via Dolorosa in Jerusalem uitgebeeld word. Uitdrukkings van eietydse lyding behoort ook deurgaans op 'n baie sensitiewe manier aangebied te word.
Op Aswoensdag is die liturgiese kleur vaalgrys. Op dié dag (of op die Sondag daarna) kan 'n houtkruis op 'n prominente plek in die kerkgebou aangebring word. Dit kan die hele seisoen lank as 'n sentrale fokuspunt dien. Hang ná twee Sondae 'n pers doek daaroor, want dit is die kleur van die seisoen. Van Palmsondag af kan dit na dieprooi verander word en op Heilige Donderdag of Goeie Vrydag na swart. Op Stil Saterdag is die kleur rooi. Met Paasfees kan dit bedek word met baie (en veelkleurige) blomme.
Met die doop kan klem gelê word op God se belofte om ons God te wees en dat ons sy kinders is. Jesus se opdrag: "... en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het" (Matteus 28:20), asook 'n spiritualiteit van op weg wees, moet deurgaans beklemtoon word. Met die nagmaal, verkieslik op die Donderdag voor Paasfees of op die eerste Sondag in Lydenstyd of met Palmsondag, kan die brood en wyn aangegee word met die woorde "God géé dit", "Dit is ook vir jóú", of "God sal jou nooit vergeet / verlaat nie". Dit is goed om die geloofsoortuiging dat God ons nooit sal verlaat nie, net soos wat dit in die ouer formulier vir die nagmaal voorkom, gereeld voor te hou.
Op die ses Sondae in Lydenstyd en tydens die erediens op die Donderdagaand voor Paasfees (of op Goeie Vrydag), kan die kerse wat met Epifanietyd aangesteek is, een vir een uitgedoof word. Hou die laaste kers vir die diens op Heilige Donderdag (of Goeie Vrydag). Tydens hierdie liturgiese handeling kan een van Jesus se sewe woorde aan die kruis elke keer gelees word. Bid ook deurgaans vir mense wat ly of seer het.
Gerhard Bothma

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

