Oostelike Sinode
Bedieninge » Aanbidding » Kerklike Jaar » KONINKRYKSTYD
KONINKRYKSTYD
2010/05/24
KONINKRYKSTYD
Ná Pinkstertyd breek Koninkrykstyd op Drie-eenheidsondag aan. Hierdie seisoen, waarin ons Koning en sy koninkryk gevier word, strek tot op Christus-die-Koningsondag, net voor Adventstyd. Die fokus van hierdie seisoen is om God se koninklike heerskappy en handelinge in elke faset van ons lewe en die wêreld op baie maniere en met verskeie geleenthede te vier en te integreer.
God is nie net in die kerk by ons betrokke nie, maar elke dag en in elke aspek van ons alledaagse lewens. Tydens Epifanie-, Paas- en Pinksterfees, asook met Advents- en Kerstyd en die seisoene wat daarmee saamval, word spesifieke aspekte van God se koninkryk aan die bod gebring. Gedurende Koninkrykstyd sit ons hierdie vieringe voort, maar ons fokus ook op ander belangrike aspekte van ons "burgerskap in God se koninkryk". Ons bely dat God Koning is en dat Hy regeer oor die ganse mensdom en heelal en nie net oor ons wat in Hom glo nie.
Op Drie-eenheidsondag vier ons God drie-enig. Alhoewel hierdie leerstelling God nie volledig kan verklaar of verduidelik nie, help dit ons in ons nadenke oor en belewenisse van God en die goddelike. Ons moet leer om holisties en sistemies hierin te wees en ons moet onthou dat alles oor God nie in Jesus en die Gees klaar gesê is nie. Hierdie viering moet God verheerlik en ons hierin tot diens wees. Toe ons gedoop is, is die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees in dieselfde sin saam met ons name genoem. Elkeen van ons moet dikwels daaraan herinner word dat God Homself "nooit nie skaam as Vader, Seun en Heil'ge Gees om ook mý God genoem te wees" (Lied 290:1 in die Liedboek van die Kerk).
Ons vier Christus-die-Koningsondag ook só. Dié viering help ons om kreatief oor Christus en Christen-wees na te dink en om dinamies in 'n vinnig-veranderende wêreld te leef. Christus is ons Here en elkeen van ons is Christus s'n, of soos wat ons mekaar noem, 'n Christen. Aan die einde van die jaar word ons identiteit en waardes waarskynlik meer dikwels as in ander tye beproef. Veral moet ons daaraan herinner word dat God, wat "die goeie werk" in ons begin het, "dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom" (Filippense 1:6).
In die literatuur wat vanjaar gedurende Koninkrykstyd gelees word, is God se koningskap en sy koninkryk deurgaans prominent. Vir Nehemia was die herbou van Jerusalem en die tempel belangrik omdat dit simbole van die hervestiging van God se koninkryk in Palestina was. In Job en Prediker leer ons meer van die wysheid wat nodig is om kontekstueel te dink en te leef waar ons onsself bevind. In Rut en Jona raak ons veral van God se sorg en roeping vir ons as reisigers, vreemdelinge en gestuurdes bewus. Ons vind dit ook in 1 en 2 Kronieke en in Daniël. Hooglied se motiewe van weer begin, nuwe lewe en liefde is ook aktueel in Koninkrykstyd.
Vieringe soos Arbeidsondag (Sondag naaste aan 1 Mei), Evangelie vir die Ekologie (eerste Sondag in Junie), Bybelsondag (Sondag naaste aan 24 Augustus), Toerustingsondag (die tweede Sondag in September) en Hervormingsondag (Sondag naaste aan 31 Oktober), behoort al goed in ons gemeentes gevestig te wees. Aangesien God en sy koninkryk met álles in ons lewens te doen het, moet ons ook aan nasionale vieringsdae, soos Jeug- (16 Junie), Vroue- (9 Augustus) en Erfenisdag (24 September), aandag skenk. Dit het tyd geword dat ons - met respek gesê - meer doen as om oor die beklemtoning hierin te bid. Ons behoort ook in die liturgie en verder meer daarvan te maak. Waar ons dieselfde met verskeie van die internasionale vieringsdae wat met Koninkrykstyd saamval doen, sal dit net verrykend wees.
SIMBOLE, KLEURE EN GEBRUIKE IN KONINKRYKSTYD
Gedurende Koninkrykstyd is groen en skakeringe van groen die gepaste kleure omdat dit simbolies is van lewe en groei. Op Drie-eenheid- en Christus-die-Koningsondag is die kleur goud en op Hervormingsondag is dit bloedrooi. Hierdie kleure kan op baie verskillende maniere in liturgiese ruimtes en andersins bygebring word. Veral omdat dit gedurende Koninkrykstyd lente word, kan groen plante gebruik word. Dit kan 'n goeie effek op die gemeente hê as hulle kan sien hoe die plante as 't ware voor hulle oë kleur kry, bot en groei. Die versorging daarvan is óók simbolies van die manier waarop God vir ons sorg en na ons omsien, asook vir die manier waarop ons ons rentmeesterskap beoefen.
'n Boot (sonder of met 'n kruis daarin) is seker die bekendste simbool vir Koninkrykstyd. Die gestuurdheid van die kerk én elke lidmaat word hiermee uitgebeeld. Simbole wat reeds regoor die wêreld gebruik word en gerus oorweeg kan word, is 'n oop Bybel, die Lam (veral met 'n staf of septer), 'n koringaar of -are, 'n sirkel en 'n vierkant. Benut op Drie-eenheidsondag die sogenaamde Drie-eenheidsdriehoek, 'n driehoek, drie sirkels, Triquerta, Fleur

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

