Oostelike Sinode
Bedieninge » Ondersteuningsdiens » Besluite van Ondersteuningsdiens » INLIGTING VAN DIE SAID OOR INKOMSTE UIT HANDELSAKTIWITEITE - 19 JANUARIE 2005
INLIGTING VAN DIE SAID OOR INKOMSTE UIT HANDELSAKTIWITEITE - 19 JANUARIE 2005
2008/05/05
1. Toepassing van die de minimus reël Die belastingvrystellingsgids maak nou voorsiening vir 'n meer beperkende toepassing van die de minimus reël ten opsigte van nie-verbandhoudende handelsaktiwiteite (5% van bruto inkomste of R25 000, nadat ander hanseldaktiwiteite onder (bb) verbandhoudende handelsaktiwiteite, (cc) nie-verbandhoudende handels- aktiwiteite van toevallige aard en (dd) handelsaktiwiteite deur die minister goedgekeur) van die bruto inkomste afgetrek is. Hierdie administratiewe reëling is diskresionêr van aard en SAID behou die reg voor om te besluit wanneer dit toegepas sal word. 2. Nie-verbandhoudende handelsaktiwiteite Die Wet bepaal dat alle nie-verbandhoudende handelsaktiwiteite voor 1 Januarie 2006 oorgeplaas moet word na belastingpligtige entiteite. SAID het aangedui dat hulle bereid is om te kyk na 'n situasie waar sodanige aktiwiteite binne die bestaande openbare weldaadsorganisasie "afgekamp" kan word, op 'n wyse waarop net hierdie aktiwiteit dan belastingpligtig sal wees. Dit bly egter nie wenslik dat 'n openbare weldaadsorganisasie uitgebreide nie-verbandhoudende handelsaktiwiteite en veral kommersiële handelsaktiwiteite onderneem nie. SAID sal waarskynlik nie 'n organisasie deregistreer, voordat waarskuwings wat selfs oor drie jaar strek, uitgereik is nie. 3. Registrasie as organisasie sonder winsoogmerk SAID het aangedui dat hulle die afdwing van hierdie registrasie tot verdere kennisgewing opskort. Die hef van rente - 19 Januarie 2005 Een: Daar is uitsprake oor die hef van rente in die Ou Testament, die Nuwe Testament, in die vroeë Kerk en in die moderne tyd. Twee: In die Ou Testament Die hef van rente van volksgenote was verbode. Vreemdelinge kon wel rente gevra word. Verse in die verband, is byvoorbeeld Eksodus 22 vers 25 "As jy aan 'n arm man uit my volk geld leen, moet jy nooit teenoor hom soos 'n skuldeiser optree nie. Jy mag hom ook nie rente vra nie." Deuteronomium 23 vers 19 en 20 "19 Jy mag niks teen rente aan jou volksgenoot uitleen nie: nie geld of kos of enigiets wat 'n mens kan uitleen nie. 20 Jy mag aan 'n nie-Israeliet iets teen rente uitleen, maar aan jou volksgenoot mag jy niks teen rente uitleen nie." Bespreking Lenings was aan arm volksgenote gegee om nood te verlig; om hulle aan die lewe te hou. Dit was eerder barmhartigheid, as 'n finansiële transaksie. Met vreemdelinge kon besigheid bedryf word. Drie: In die Nuwe Testament Die gelykenisse praat oor die hef van rente Matteus 25 vers 27 die muntstukke - "Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit by my koms met rente teruggekry het." Lukas 19 vers 23 - die goue muntstukke - ". . waarom het jy dan nie my geld in die bank gesit nie? Dan sou ek dit by my terugkoms darem met rente kon getrek het." Bespreking Hier het 'n ander stelsel gegeld. Verdien van rente was as 'n gewone manier gesien, om besigheid te bedryf en wins te maak. Vier: In die Vroeë Kerk Die hef van rente is verbied. Selfs die Derde Konsilie van 1179 het dit uitdruklik verbied. Daar is sterk by die Ou Testamentiese gedagte van hulpverlening aangesluit. Vyf: In die moderne tyd Rente is deel van die finansiële bestel 'n gewone finansiële instrument. 'n Ander beginsel kom ook ter sprake: "Ontvang terug, wat gegee is." Lukas 6 vers 34 "En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak om dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry." Met die verskynsel van inflasie, is dit nodig om rente te hef, om die waarde van jou geld terug te kry. Indien die gee van 'n lening 'n persoon verliese laat ly, selfs omdat hy/sy nie beleggings moontlikhede kon benut nie, kan rente gevra word. Ses: Gevolgtrekking Punt 6.1 Rente kan binne 'n moderne finansiële bestel gehef word, om jou geld se waarde teen inflasie te beskerm en om vir beleggings verliese te vergoed. Punt 6.2 Indien die Sinode fondse beskikbaar stel, moet bepaal word of dit hulpverlening aan behoeftige gemeentes is, of 'n oorbrugging aan gemeentes, wat oor genoegsame finansiële vermoë en bronne beskik. Punt 6.3 Die Sinode het besluit om nie in 'n finansiële transaksies betrokke te raak nie. Dit is duidelik uitgemaak, dat dit nie die Sinode se taak is om lenings te gee, of besigheid te bedryf nie. Punt 6.4 Die Sinode wil egter graag aan behoeftige gemeentes hulp verleen. BEHUISINGSVOORDELE 23 JUNIE 2004 Punt 1 Die Kerkorde (Familiereëls) Die Kerkorde bepaal tans soos volg: Punt 1.1 Artikel 13 "Die gemeente . . . is verantwoordelik vir sy lewensonderhoud en toelae . . . ." Punt 1.2 Bepaling 9 ". . . lewensonderhoud en toelae . . sluit die volgende in: . . . 'n woning of 'n huistoelaag met gebruiklike voordele (water en elektrisiteit . . . ) . . ." Punt 2 Uitgangspunt Indien 'n predikant nie in 'n pastorie bly nie, geld die uitgangspunt dat die predikant in dieselfde posisie geplaas behoort te word as die predikant wat in 'n gratis pastorie bly. Hiervolgens word 'n behuisingsvoordeel betaal, wat uit huistoelae en rente-subsidie bestaan. Punt 3 Praktiese omstandighede Punt 3.1 Die meeste gemeentes beskik oor doelmatige pastorieë. Punt 3.2 Indien daar nie 'n pastorie is nie, kan 'n behuisingsvoordeel aangebied word, as alternatief vir die verkryging van 'n pastorie. Punt 3.3 Indien 'n predikant in 'n pastorie woon en 'n eie huis wil betrek, kan hy/sy vooraf met die kerkraad oor die moontlikheid onderhandel. Punt 4 Oordeel van Ondersteuningsdienste Na deeglike oorweging het Ondersteuningsdienste tot die volgende gevolgtrekkings gekom: Punt 4.1 Die gee van behuisingsvoordeel moet met groot omsigtigheid benader word. Dit behoort ook slegs in buitengewone omstandighede oorweeg te word. Punt 4.2 Indien dit oorweeg word, behoort die vyf beginsels hieronder in ag geneem te word (Punt 5 tot 9). Punt 4.3 Behuisingsvoordele behoort slegs na deeglike onder-handelinge gegee te word. Beginsels, wat in ag geneem moet word Punt 5 Die voordeel moet bekostigbaar wees. Punt 5.1 Die voordeel moet enersyds vir die gemeente bekostigbaar wees. Meeste gemeentes (indien nie almal nie) beskik reeds oor doelmatige behuising. Om die voordeel te verander, moet die gemeente óf oor bykomende fondse beskik, óf die huidige pastorie verhuur of verkoop. Gewoonlik veroorsaak die manier van doen, 'n groter uitgawe vir die gemeente. Punt 5.2 Hierdie voordeel moet ook bekostigbaar vir die predikant wees. Dikwels is huise in die gemeente te duur of moet 'n te groot gedeelte van die totale vergoeding aan 'n huis afgestaan word. Punt 6 Die voordeel moet billik wees. Punt 6.1 Hiermee word bedoel dat daar duidelik aangetoon word, hoe groot die huis moet wees. Beide partye se verwagtinge moet gestel word. Moet dit 'n huis wees, wat geskik is vir aftrede? Moet dit dalk 'n huis wees, wat vir 'n predikant met 'n klompie kinders geskik is? Moet die huis ook as 'n kantoor en werkplek dien of nie? Word daar elders alternatiewe kantoor-ruimtes voorsien? Punt 6.2 Die Algemene Sinode bereken tans (2004) die waarde van die voordeel vir 'n huis van 220 vierkante meter, wat in 'n landswye opname gemiddeld R390 000,00 kos. Die helfte word dan gesubsideer. Die Wes-Kaapland betaal veel meer. Hierdie bedrag moet billik wees volgens die gemeente se vermoë en die predikant se verwagting. Punt 7 Daar moet 'n balans wees in die gemeente en die predikant se bydrae. Punt 7.1 Die gemeente moet nie alleen vir die predikant in staat stel om 'n bate op te bou en so te voorsien vir aftrede nie. Punt 7.2 Daar is ook ander wyses, waarop vir aftrede voorsiening gemaak kan word, as om net vroegtydig 'n eie huis te bekom. Punt 7.3 Die predikant behoort 'n eie bydrae te lewer, wat wesenlik bydra om die bate op te bou. Daar kan nie net op die gemeente se bydraes staat gemaak word nie. Punt 8 Die voordeel se belasting-implikasies moet verreken word. Punt 8.1 Predikante in pastorieë, betaal belasting op die gratis woning. 'n Bedrag van R2 072,00 word tans maandeliks by die vergoeding getel, voordat die belasting bereken word. Punt 8.2 Predikante in eie huise betaal belasting ook op die behuisings voordeel. Vroeër kon vir 'n studeerkamer/kantoor en dienste by die huis 'n gedeelte afgetrek word. Dié voordeel het egter verval. Punt 9 Dié voordeel moet nie 'n nadelige invloed op die predikant se funksionering hê nie. Punt 9.1 Dikwels bring 'n eie huis soveel "moeite" vir instandhouding, dat dit aandag van die primêre taak aftrek. Dit is 'n besliste nadeel. Punt 9.2 Dikwels is 'n predikant met 'n eie huis, so aan 'n gemeente gebind, dat hy/sy nie kan skuif nie. Punt 9.3 Soms kan 'n predikante nie 'n huis binne die grense van die gemeente bekostig nie, wat ook in ag geneem moet word. Punt 10 Waarde van die behuisingvoordele Punt 10.1 Tans word 'n behuisingsvoordeel betaal, wat uit 'n huistoelae en rente-subsidie saamgestel is. Punt 10.2 Die berekening van die voordeel is aan talle veranderlikes onderworpe. Vir die huistoelae word die volgende in ag geneem: munisipale belasting, munisipale dienste, water, elektrisiteit, versekering en die onderhoud van die eiendom. Hierdie bedrae verskil ook van gebied tot gebied. Vir die berekening van die rente-subsidie word die verbandkoers, wat van tyd tot tyd wissel, 'n perk op die leningsbedrag en 'n bepaalde termyn in ag geneem. Punt 10.3 Hierdie berekeninge is dikwels ingewikkeld en daar is 'n behoefte aan eenvoudige riglyne, wat in onderhandelinge gebruik kan word. Punt 10.4 Ondersteuningsdienste het geoordeel dat 35% van die topkerf van die traktement, as 'n billike bedrag vir 'n behuisingsvoordeel in onderhandelinge gebruik kan word.

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

