Oostelike Sinode
Bedieninge » Aanbidding » Woordwyser » INLEIDING TOT WOORDWYSER II - BYBEL IN KONTEKS
INLEIDING TOT WOORDWYSER II - BYBEL IN KONTEKS
2008/07/08
In sy roman Bidsprinkaan vertel André P. Brink die amusante verhaaltjie van 'n jeugdige Kupido Kakkerlak wat die krag van die geskrewe woord ontdek. Sy "nooi" stuur hom na buurplaas met 'n mandjie met vier en twintig granate in – met 'n briefie daarby. Langs die pad word hy honger en eet twee van die granate. Toe die buurvrou die briefie lees en die granate tel, vra sy waar die ander twee granate is. Die afranseling wat die jong Kupido ontvang weens die twee vermiste granate kon die verwondering wat by hom opgekom het oor die krag van die briefie wat hom verklik het nie laat verflou nie. 'n Jaar later word Kupido weer gestuur, nou met 'n mandjie met twintig kwepers in. Hierdie keer is hy slim. Toe hy van die kwepers wou eet, tref hy 'n voorsorgmaatreël:
Hy het eers die briefie gevat wat sy nooi met hom saamgestuur het en dit anderkant 'n paar rotse teen 'n kop onder 'n plat klip gaan wegsteek sodat die ding hom nie weer kon afloer en gaan verklik nie. (bladsy 26)
Maar weer misgis hy hom. Hy kry egter nie 'n afranseling nie. In stede daarvan kan die buurvrou haar lag nie hou toe sy ontdek hoe Kupido se kop gewerk het nie. Hierna wou Kupido met alle mag leer lees en skryf. Hy het die krag van die geskrewe woord ontdek.
Die geskrewe woord was baie lank in Israel en Juda se geskiedenis nie belangrik nie. Om die waarheid te sê, dit is as minderwaardig teenoor die gesproke woord, die mondelinge tradisie, beskou. Daarom het groot gedeeltes van die Bybel soos ons dit vandag ken nie as geskrewe teks ontstaan nie. Dit is eeue lank mondelings van een geslag aan die ander oorgedra.
Die vraag wat onwillekeurig by ons opkom, is: Hoe het die Bybel dan 'n boek geword? Die antwoord op hierdie vraag is 'n baie lang en ingewikkelde, maar fassinerende verhaal – 'n verhaal waarin ons as gelowiges baie duidelik die hand van die Here kan sien. Ons wil oor die volgende drie jaar hierdie verhaal so goed as moontlik in Woordwyser probeer vertel. Die rede waarom ons dit wil doen, is om die leser te help om die Bybel in konteks te lees.
BYBEL IN KONTEKS
Dit is ons oortuiging dat dit uiters onverantwoordelik is om die Bybel buite konteks te lees. Ons wil graag fokus op die oorspronklike konteks van die Bybel as eerste stap om die Bybel se boodskap vir ons vandag te verstaan. Die klem val dus op die teks van die Bybel, wat ons dan binne die oorspronklike konteks wil verstaan, sodat ons dit op 'n verantwoordelike wyse kan her-konteks-tualiseer; dit wil sê die boodskap vir ons konteks kan ontgin. Deur op hierdie verantwoordelike manier te werk te gaan, wil ons ons respek vir die Bybel as Woord van God betoon. Ons glo dat die Here deur die Bybel met ons wil praat en ons wil sy stem graag rég hoor.
Kommunikasie vind altyd binne 'n bepaalde konteks plaas. Indien die konteks nie in ag geneem word nie, kan dit maklik gebeur dat kommunikasie misluk omdat die boodskap wat uiteindelik by die ontvanger tuiskom nie die bedoeling van die sender was nie.
Wanneer iemand in 'n stampvol teater die volgende woorde uiter: "Vuur! Vlug vir julle lewens!" kan dit groot paniek onder die teatergangers veroorsaak. Maar wanneer hierdie woorde deel is van 'n toneelstuk wat opgevoer word, en die teatergangers verstaan dit só, dan sal hulle nie skielik opspring en na die uitgange toe hardloop nie.
Maar sou een van die akteurs in die toneelstuk skielik op die verhoog verskyn en skree: "Vuur!", met die bedoeling om die teatergangers teen 'n werklike gevaar te waarsku, kan konteksverwarring maklik plaasvind. Die hoorders of ontvangers van die boodskap sal sukkel om die bedoeling te verstaan en kan daarom ontoepaslik reageer. Suksesvolle kommunikasie is dus afhanklik van 'n goeie verstaan van die konteks.
In die geval van die Bybel het konteksverwarring al dikwels tot groot misverstand gelei. "Elke ketter het sy letter", lui die spreekwoord. Dit is inderdaad so dat mense omtrent enige iets uit die Bybel kan "bewys" indien die konteks geïgnoreer word.
Om die Bybel binne konteks te lees moet ons met die volgende rekening hou:
Ø Die volgorde van die boeke in die Bybel is nie die volgorde waarin hulle ontstaan het nie.
Ø Die Bybel is nie deur een persoon op een plek op een slag geskryf nie.
Ø Baie van die boeke van die Bybel is eweneens nie deur een persoon op een plek en keer geskryf nie.
Ø Dis nie deurentyd dieselfde mense wat aan die woord is nie maar verskillende mense uit verskillend tye en in verskillende omstandighede.
Ø Groot gedeeltes van die Bybel het nie as geskrewe dokumente ontstaan nie maar is lank mondelings van geslag tot geslag oorgelewer.
Ø Daar is eers teen die einde van die agtste eeu (800-700 vC) begin om sommige dele van die Ou Testament op skrif te stel.
DIE STORIE VAN DIE ONTSTAAN VAN DIE BYBEL
Om volledig reg aan die konteks van die Bybel te laat geskied, gaan ons die Bybel lees in die volgorde waarin dit ontstaan het. Ons begin dus by dié gedeeltes in die Bybel wat die vroegste ontstaan het en beweeg dan na die gedeeltes wat later ontstaan het. Hoewel ons nie die hele Bybel gedurende die volgende drie jaar gaan lees nie, is die bedoeling dat ons elke Bybelgedeelte wat ons behandel, wil lees teen die agtergrond van die historiese, kulturele en sosiopolitieke konteks waarbinne dit ontstaan het.
Dit is belangrik dat die leser van hierdie jaar se Woordwyser deurlopend 'n basiese historiese raamwerk in gedagte sal hou. Ons kan dit soos volg uiteensit:
|
| Ou Testament | Nuwe Testament | ||
| Vorming | Vestiging en vroeë geskiedenis van Israel | 1200–586 vC | Vestiging en vroeë geskiedenis van die Jesus-beweging | 30-66 nC |
| Krisis | Verwoesting van Jerusalem en ballingskap | 586 - 539 vC | Joods-Romeinse oorlog en verwoesting van Jerusalem | 66-70 nC |
| Nuwe bedeling | Vroeë Judaïsme | 539 vC en later | Vroeë kerk | 70 nC en later |
Die ontstaan van die Bybel as geskrewe dokument sowel as die inhoud daarvan is radikaal beïnvloed deur twee groot gebeurtenisse: in die geval van die Ou Testament die verwoesting van Jerusalem in 586 vC en die gevolglike ballingskap; en in die geval van die Nuwe Testament die verwoesting van Jerusalem in 70 nC teen die einde van die Joods-Romeinse oorlog. Hierdie twee gebeurtenisse het die godsdienskulturele en sosiopolitieke landskap van die Jode (in 586 vC) en die Christene (in 70 nC) ingrypend geraak. Die konteks van die mense wat vroeër as hierdie twee krisisdatums geleef het, het drasties verskil van die konteks van die mense wat daarná geleef het.
Vanjaar vestig ons die aandag op beide Testamente se vormingstye; dit wil sê op die vestiging en vroeë geskiedenis van onderskeidelik Israel en die Jesus-beweging binne die Judaïsme. Gedurende die volgende twee jaar kyk ons na die krisistye en die tydperk daarná. Wat die Ou Testament aanbetref, kom seleksies uit die literatuur wat vóór die ballingskap ontstaan het vanjaar aan die beurt; en wat die Nuwe Testament aanbetref, val die klem vanjaar op sommige van die literatuur wat vóór die Joods-Romeinse oorlog ontstaan het, naamlik 1 Tessalonisense, Galasiërs en 1 en 2 Korintiërs. (Ons gaan nie vanjaar aan die ander briewe van Paulus aandag gee nie.)
HOE DIE OU TESTAMENT ONTSTAAN HET (tot 586 vc)
Tydens die vestigingstyd van die volk was Israel hoofsaaklik 'n mondelinge gemeenskap. Hiermee word bedoel dat die woorde van die gesaghebbendes (leermeesters, familiehoofde), groter gesag gedra het as enige iets op skrif. Dit wat nodig was om te weet is mondelings van geslag tot geslag oorgelewer. Neem byvoorbeeld Spreuke. Hoewel baie van die spreuke in hierdie boek heel moontlik in die tyd van Salomo ontstaan het, is dit nie tóé neergeskryf nie. Die ouers of leermeesters het dit mondelings aan hulle kinders oorgedra. (Let byvoorbeeld op die bewoording van Spreuke 2:1: My seun, neem aan wat ek jou sê….)
Die vroegste verhale, liedere, wette, spreuke en psalms is nie opgeskryf nie maar die ouer geslagte het dit mondelings deur middel van herhaling in die geheue van kinders ingeprent. (Ons moet hier nie dink aan die manier waarop ons westerlinge verhale oorvertel nie. Wanneer ons dit doen, verander ons elke keer daaraan en voeg 'n stertjie of twee by. In die antieke tyd was hierdie mondelinge oorlewering of tradisie besonder woordgetrou. Die aard van die materiaal, byvoorbeeld verhale en liedere, het akkurate oordrag vergemaklik.)
Navorsing toon dat vóór die einde van die agtste eeu (800-700) voor Christus, byna niks van wat vandag in die Bybel staan op skrif was nie. Dit beteken egter nie dat dit nie bestaan het nie. Dit het bestaan – maar in mondelinge vorm. Dit beteken óók nie dat die mense nie kón lees of skryf nie. Alfabetiese skrif (teenoor hiërogliewe en spyker- (of wig-) skrif, wat baie ouer is), was reeds sedert 900 vC algemeen in gebruik. In die administrasie van die regering en in die handel is noodwendig skriftelike dokumente geproduseer (byvoorbeeld lyste van goedere en kwitansies op potskerwe).
Sedert die eerste helfte van die tweede millennium vC het die voorouers van die volk Israel sekere gebeurtenisse rondom die "aartsvaders" (Abraham, Isak, Jakob en Josef) in verhaalvorm begin oorlewer. Ons noem dit die Aartsvadertradisie. ie verhale wat oor die aartsvaders vertel is, speel af rondom bepaalde plekke waar daar heiligdomme was: in die geval van Abraham rondom Hebron, in die geval van Isak rondom Berseba en in die geval van Jakob rondom Bet-El. Sigem (Genesis 12:6 en 34) is ook 'n belangrike plek in die aartsvaderverhale. Afgesien van laasgenoemde is al hierdie plekke in die suide van Kanaän. Dit dui daarop dat die aartsvaderverhale hoofsaaklik in suidelike kringe oorgelewer is.
Vanaf ongeveer 1280 vC het ander verhale bygekom, naamlik verhale oor die bevryding uit Egipte (Eksodustradisie), en verhale oor die Sinaigebeure (Sinaitradisie). Hierdie verhale het weer sterker in die noorde van die land gesirkuleer.
Ná die vestiging in die beloofde land (ongeveer 1200) het daar nog tradisies bygekom: ou liedere, (sien bladsy 35) en die verhale oor die intog en die tyd van die rigters. In die rigtertyd is daar begin om van hierdie verhale in groter eenhede te versamel. Ons moet hier deeglik kennis neem van die feit dat hierdie verhale nou binne 'n ander konteks begin funksioneer het. Teen die agtergrond van die stryd teen die oorspronklike inwoners van die land het die verhale van die aartsvaders (met sterk klem op die belofte van 'n land) die Israeliete se reg op die besetting van Kanaän bevestig.
Nog steeds is bitter min op skrif gestel. Die Lied van Debora in Rigters 5 is waarskynlik een van die min uitsonderings. Nie alle verhale is op alle plekke en in alle kringe van die volk oorvertel nie. Sekere tradisies was op sekere plekke en onder sekere dele van die bevolking sterker as op ander plekke en in ander kringe. Só het daar 'n beduidende verskil ontstaan tussen die verhale en tradisies van die mense in die noorde van die land en dié in die suide.
Hierná het verhale oor die vroeë konings (Saul, Dawid en Salomo) deel van die Israeliete se mondelinge geheue geword. Voor die skeuring van die ryk in 922 vC is 'n groot gedeelte van die mondelinge tradisies saamgevoeg en het dit 'n afgeronder vorm aangeneem (die sogenaamde "Jahwis" of "J"), alhoewel dit volgens die nuutste navorsing nog nie op daardie stadium noodwendig skriftelike gestalte gekry nie. Hierdie versameling het hoofsaaklik in die suide ontstaan en het basies die "meesterverhaal" van Israel vertel.
Ná die skeuring van die ryk is daar in die suide (wat nou die Suidryk was met Jerusalem as hoofstad) voortgegaan om die "Jahwis" met nog verhale te verryk. Verhale oor die skepping, sondvloed en die toring van Babel is bygevoeg. Terselfdertyd is daar in die noorde (die Noordryk met Samaria as hoofstad) ook begin om vaster vorm te gee aan mondelinge tradisies, veral die tradisies rondom die uittog en die wetgewing by Sinai.
Die eerste profete het ook in hierdie tyd op die toneel verskyn. In die Noordryk het die profeet Elia in 870 begin optree en hy is in 848 deur Elisa opgevolg. Die verhale oor hierdie twee profete het 'n mondelinge tradisie-eenheid gevorm. Ongeveer 'n eeu later het Amos (762-750vC) en Hosea ('n jonger tydgenoot van Amos, in die Noordryk begin optree. Indien sommige navorsers korrek is, was daar ook nog 'n ander onbekende profeet in hierdie tyd wie se woorde ons vandag in Miga 6-7 terugvind.
In die tyd van Amos en Hosea het daar 'n identifiseerbare versameling verhale wat as die "Elohis" bekend staan, vorm aangeneem. Aangesien die Kanaänitiese kultuur en godsdiens (Baäl en Asjera) veral in die Noordryk invloedryk was, toon hierdie versameling 'n baie sterk anti-Kanaänitiese inslag. (Omdat die "Jahwis" en die "Elohis" in die tyd van die ballingskap (586-539) tot 'n hegte eenheid saamgevoeg is, is dit onprakties om die Elohis apart aan die beurt te laat kom in die dagstukkies van hierdie uitgawe van Woordwyser.)
Die kern van 'n baie belangrike dokument wat uiteindelik 'n groot rol sou speel in die vormgewing van die Bybel het ook in hierdie tyd in die Noordryk sy oorsprong gehad: die basis van die boek wat ons vandag as Deuteronomium ken. Ná die val van Samaria (721 vC) het die vlugtelinge dit saam met hulle Jerusalem toe geneem waar dit 'n groot invloed uitgeoefen het.
In die Suidryk het daar in hierdie tyd twee ander belangrike profete hulle verskyning gemaak: Miga (730 vC) en Jesaja van Jerusalem (740 vC). Laasgenoemde profeet se woorde vind ons vandag in Jesaja 1-39. Ons moet Jesaja en Miga se woorde lees teen die agtergrond van die geskiedenis en omstandighede van Juda en Jerusalem.
Die profete se woorde is natuurlik nie deur die profete self neergeskryf nie, maar is mondelings deur hulle volgelinge oorgelewer totdat dit uiteindelik skriftelike gestalte gekry het. Dit het teen die einde van die agtste eeu (800-700) voor Christus in die tyd van koning Hiskia van Juda (726-697 vC) gebeur.
'n Paar jaar nadat Hiskia in Jerusalem koning geword, het Israel (die Noordryk), met Samaria as hoofstad, voor die magte van Salmaneser V van Assirië geval. Hierdie tragedie het het uitgekring en onder andere tot die opskrifstelling van 'n groot gedeelte van die Bybel gelei.
Vlugtelinge het suidwaarts gestroom. Die bevolking van Jerusalem het binne 'n paar jaar geweldig toegeneem. In die middel van die agtste eeu het slegs ses persent van die inwoners van Juda in Jerusalem gewoon. Teen die einde van hierdie eeu was dit dertig persent. Verstedeliking het groot druk op die administrasie van die stad geplaas en 'n uitgebreide burokrasie het ontstaan. Dit het noodwendig gesofistikeerder kommunikasie genoodsaak. Opgrawings toon 'n eksponensiële groei in geskrewe dokumente (hoofsaaklik op potskerwe) in hierdie tyd.
Die vlugtelinge uit die noorde was ook heelwat meer geletterd en kosmopolities as hulle suidelike bure. Hulle het meer kontak gehad met die gevorderde beskawing van die Kanaäniete en was ook meer blootgestel aan invloede van ander beskawings aangesien die groot handelsroetes deur die Noordryk geloop het.
Die val van Samaria is deur Hiskia gesien as 'n veroordeling deur die Here van die afsonderlike pad wat die Noordryk geloop het en as 'n regverdiging en bevestiging van die Dawidiese dinastie in Jerusalem. Hiskia se ambisie was 'n herenigde koninkryk onder 'n Dawidiese koning met die gepaardgaande herlewing van die goue era van Israel se geskiedenis. Deel van hierdie projek was die opskrifstelling van die mondelinge tradisies.
In hierdie proses het "koning Hiskia se amptenare" (Spreuke 25:1) waarskynlik 'n groot rol gespeel. Dié sydelingse verwysing na dié groep dui op 'n groter gekoördineerde poging om nie net spreuke nie, maar ook ander mondelinge "literatuur" te versamel en skriftelike gestalte te gee.
'n Bepaalde teologies-ideologiese beskouing van die Dawidiese dinastie en die stad Jerusalem (wat ook as "Sion" bekend gestaan het) was die dryfkrag agter Hiskia se ambisie. Hierdie ideologie het basies behels dat die Dawidiese koninkryk, die stad Jerusalem en die tempel en kultus op die berg Sion deur die Here geheilig is en derhalwe onaantasbaar was. Hierdie sogenaamde Sion- en Dawidtradisie het skriftelike neerslag gevind in 'n aantal psalms (byvoorbeeld 2, 20, 46 en 48), en ook gedeeltes soos 1 Samuel 16:1-13 en Jesaja 9:2-7. Die psalms wat in die Suidryk onstaan het, adem hierdie atmosfeer. Die profeet Jesaja het hierdie tradisies positief aangewend. Dit het egter later verstar en tot wanpraktyke aanleiding gegee – daarom is dit deur 'n latere profeet soos Jeremia veroordeel.
Die "amptenare van koning Hiskia" was ook verantwoordelik vir die versameling spreuke in Spreuke 25–29 en die opskrifstelling van groot gedeeltes van Josua–2 Konings. Die Elia-Elisatradisies, wat saam met die vlugtelinge uit die Noordryk gekom het, is hierby ingewerk. Hiermee saam het die profesieë van Amos, Hosea, Miga en Jesaja van Jerusalem ook skriftelike gestalte gekry. Amos en Hosea, die profete van die Noordryk, wie se woorde ook saam met die vlugtelinge gekom het, se veroordeling van die praktyke in die Noordryk het natuurlik die teologies-ideologiese skema van Hiskia ondersteun
In die tyd van Hiskia is daar ook verder vorm gegee aan die basis van Deuteronomium wat uit die noorde gekom het en is dit uitgebou tot wat ons vandag as Deuteronomium 12-26 ken. Die teorie is dat dit hierdie dokument was wat bykans 'n eeu later in die tyd van een van Hiskia se afstammelinge, koning Josia, in die tempel ontdek is … maar hierdie deel van die verhaal vertel ons in volgende jaar se Woordwyser.
HOE DIE NUWE TESTAMENT ONTSTAAN HET (tot 70 nc)
Soos reeds vermeld, fokus ons vanjaar op die geskrifte wat vandag deel vorm van die Nuwe Testament en wat vóór die krisis van 70 vC ontstaan het. Hoewel ons kan aanvaar dat, net soos by die Ou Testament, mondelinge tradisies aanvanklik sterk gefunksioneer het, bepaal ons ons aandag vanjaar by dié dele van die Nuwe Testament wat éérste skriftelike gestalte gekry het, naamlik die briewe van Paulus. Die evangelies soos ons dit vandag ken, is eers van 70 nC af geskryf.
Jesus is in 5 of 6 vC gebore (vóór die dood van Herodes die Grote onder wie se bewind die kindermoorde wat in Matteus 2 beskryf word, plaasgevind het). Hy het waarskynlik in ongeveer 28 nC as rabbi begin optree en dissipels om Hom versamel. Tydens die Paasfeesvieringe van 30 nC is Jesus deur die Romeinse owerheid as Joodse opstandeling en rebel gekruisig.
Ná sy opstanding verskyn Hy verskeie kere aan sy dissipels en aan ander mense. Hierna vind die hemelvaart plaas en na 'n tyd van toewyding en gebed ervaar die dissipels in Jerusalem 'n kragtige belewenis (die uitstorting van die Heilige Gees). So begin die eerste groepe van Jesus se volgelinge vorm aanneem. Hierdie mense sou later "Christene" genoem word (vergelyk Handelinge 11:26) en hulle as die ekklesia (gemeente, kerk) van Christus beskou.
Onder hierdie groepe is die verhale oor Jesus mondeling oorgedra met as hoofbron waarskynlik die apostels en die vroue wat noue kontak met Jesus gehad het.
Paulus was in hierdie tyd 'n jong man – 'n vurige Fariseër vir wie die eer van die Here baie belangrik was. Dit was vir hom só belangrik dat hy mense wat na sy mening die eer van die Here aangetas het, vervolg het (soos byvoorbeeld die vroeë volgelinge van Jesus). Na 'n intense ervaring van Jesus se teenwoordigheid in 33 nC (of 35 nC) op pad na Damaskus (vergelyk Handelinge 9), verander sy lewe radikaal. So ywerig soos wat hy die Jesus-volgelinge voorheen vervolg het, so ywerig het hy die boodskap van Jesus se kruisiging en opstanding uitgedra.
In 46 nC beland hy op aandrang van Barnabas in Antiogië, waarheen baie Jesus-volgelinge uitgewyk het weens die vervolgings deur die Jode in Jerusalem. Na 'n jaar in Antiogië vertrek hy saam met Barnabas op reis ("eerste sendingreis") na die eiland Siprus en verskeie dorpe in die suide van Klein-Asië (die provinsie Galasië).
Met sy terugkeer het die stryd tussen die Christene wat die Joodse tradisies (soos die besnydenis) wou handhaaf en diegene wat dit nie as noodsaaklik beskou het nie, opgevlam. 'n Dringende vergadering is in 48 nC in Jerusalem belê. (Handelinge 15 en Galasiërs 2)
Met die aanbreek van die lente die volgende jaar (Mei 49 nC) gaan Paulus weer op reis, hierdie keer saam met Silas omdat hy met Barnabas stry gekry het oor Johannes Markus. Daar is 'n teorie dat Johannes Markus, wat aanvanklik saam met Paulus en Barnabas op die eerste reis was, vroeg teruggekeer het (Handelinge 12:13) om die apostels in Jerusalem attent te maak op die feit dat Paulus nie die bekeerlinge uit die heidendom laat besny nie. Dit sou dan die eintlike rede wees waarom Paulus nie vir Johannes Markus op die tweede sendingreis wou neem nie (vergelyk Handelinge 15:37-39).
Paulus besoek weer die gemeentes in Galasië en in Listra sluit Timoteus by hulle aan. In Troas, aan die weskus van Klein Asië, verskyn 'n Masedoniese man aan Paulus en vra hom om daarheen te kom. Só kom die evangelie die eerste keer in Europa. Paulus reis na Filippi, waar hy 'n gemeente langs 'n rivier stig en om middernag saam met Silas prysliedere in die tronk sing. Hierna reis Paulus en Silas na Tessalonika. Ná moeilikheid met die Jode, wat meebring dat Paulus en Silas in die donker moes vlug, is hulle na Berea. Die Jode uit Tessalonika agtervolg hulle egter en maak ook daar die wêreld vir Paulus-hulle warm.
Paulus moes vinnig sonder Silas en Timoteus padgee en hy vlug na Atene, waar hy vir Silas en Timoteus wag. Hier voer hy 'n intense filosofiese gesprek met sommige van die inwoners op die Areopagus, 'n plek vir openbare debatvoering. Blykbaar het Timoteus intussen ook by Atene uitgekom, maar is toe weer deur Paulus teruggestuur Tessalonika toe om hulle geloof te versterk en hulle moed in te praat sodat hulle nie onder die "vervolginge" (waarskynlik deur die Jode) sou wankel nie (1 Tessalonisense 2:17-3:5).
Sonder om langer op Timoteus en Silas te wag, vertrek Paulus na Korinte (Julie 50 nC). Hier maak hy vriende met Priscilla en Akwilla, Jode wat uit Rome moes vlug toe keiser Claudius die vorige jaar al die Jode daar uitgejaag het. Volgens die Christelike skrywer Orosius het Claudius sy edik wat die Jode Rome verbied in sy negende regeringsjaar (25 Januarie 49 nC tot 24 Januarie 50 nC) uitgevaardig. In Korinte sou Paulus agtien maande lank vertoef. Silas en Timoteus sluit nou weer by Paulus aan, laasgenoemde met baie bemoedigende nuus uit Tessalonika. In Augustus of September 50 nC skryf Paulus die eerste brief aan die gemeente in Tessalonika.
Heel waarskynlik het Paulus in hierdie tyd ontstellende nuus ontvang uit die gemeentes wat hy in Galasië gestig het: "Judaïseerders" (dit is mense wat die Joodse tradisies wou handhaaf en geglo het dat die besnydenis noodsaaklik was) het daar opgedaag en die gemeente verwar. Hy skryf aan hulle 'n brief – die brief wat ons vandag ken as "Die brief aan die Galasiërs". Paulus gebruik sterk taal (vergelyk Galasiërs 1:6-9 en 3:1-3) om die gemeente tereg te wys en om die evangelie van genade te herbevestig. Hy vertel ook wat by die apostelvergadering in Jerusalem gebeur het (Galasiërs 2). Hierdie brief verteenwoordig die skeiding van die weë tussen die Judaïsme en die opkomende Jesus-beweging wat op daardie stadium nog deel van die Joodse godsdiens was. Maar dit was nie maklik nie. Hierdie stryd sou uiteindelik tot Paulus se dood lei.
Ná sy verblyf in Korinte vertrek Paulus in Maart 52 nC via Jerusalem terug na Antiogië. In Augustus dieselfde jaar vertrek hy weer, hierdie keer na Efese via die gemeentes in Galasië, waar hy tot April/Mei 55 nC bly (afgesien van 'n moontlike besoek aan Korinte om probleme daar op te los). Dit is in hierdie tyd dat Paulus sy briewe aan die gemeente in Korinte skryf (1 en 2 Korintiërs).
Ongeveer Oktober of November 55 nC kom Paulus weer in Korinte aan waar hy oorwinter en die brief aan die gemeentetjies in Rome skryf. Vroeg April 56 nC vertrek Paulus na Jerusalem waar hy tydens Pinkster gevange geneem word. Efesiërs, Kolossense, Filippense en Filemon word in gevangenskap geskryf.
'n Dekade later, kort ná Paulus se dood, breek die Joods-Romeinse oorlog uit. Die eerste fase van die opskrifstelling van die Nuwe Testament is met die skryf van Paulus se laaste briewe afgehandel. Ná die oorlog is die evangelies, Handelinge en die ander dele van die Nuwe Testament geskryf.
Freddie Schoeman
EINDREDAKTEUR

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

