Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Bedieninge » Aanbidding » Kerklike Jaar » HEMELVAART

HEMELVAART


2011/05/31

HEMELVAART

 

Jesus se hemelvaart word op die Donderdag veertig dae ná Paasfees en tien dae voor Pinkster gevier. In die viering word beide Jesus se hemelvaart én die kerk se leer oor die hemelvaart betrek. Hemelvaart is 'n selfstandige viering, alhoewel sommiges dit as deel van Paastyd en ander dit as deel van Pinkstertyd sien.

 

Paulus vertel nie van Jesus se hemelvaart nie, maar aanvaar dit bloot, en bring dit in verband met die opstanding. Vir hom het dit daarmee te doen dat Christus uit die dood opgewek is en met God een geword het. Van die evangeliste is dit net Lukas (24:51) wat 'n vertelling oor die hemelvaart het en hy volg dit in Handelinge (1:9) op. In Openbaring 12:5 word ook na die hemelvaart verwys. Dit word as 'n feit gestel om te sê dat Jesus by God is. Lukas 20:19 tot 24:53 handel oor die eerste drie Sabbatdae van Nisan in die sinagoge en sy hemelvaartvertelling het met die lees van Henog se verhaal (Genesis 5:24) saamgeval.

 

Die vroegste afsonderlike verwysing na Hemelvaart in die vroeë kerk se prediking, word in 386 (en ook in 398) by biskop Chrysostomos aangetref. Sedert die vyfde eeu word dit wyd en algemeen as 'n afsonderlike fees gevier. Temas wat met hierdie viering in herinnering geroep word, is die berig van die hemelvaart (Handelinge 1:1-11), Jesus se Groot Opdrag (Matteus 28:16-20) en sy belofte oor die uitstorting van die Gees (Handelinge 1:5, 8).

 

Die viering van Hemelvaart help ons om te besef dat godsdiens nie 'n abstrakte saak is nie, maar álles met ons aardse bestaan te doen het. Hemel en aarde raak as't ware aan mekaar en is eintlik deel van één groter entiteit. Beide die hemel en die aarde word "God se woonplek" in die Bybel genoem. Die opstanding gryp vooruit na die hemelvaart en Pinkster gryp terug daarna. Hemelvaart is die skarnier tussen dié twee vieringe, wat die dualisme tussen "hemel" en "aarde" ophef. Die een is so werklik en so toeganklik soos die ander. God is "tuis" by mense en mense is "tuis in die huis van die Here".

 

GEBRUIKE, SIMBOLE EN KLEURE MET HEMELVAART

 

Die kleur met Hemelvaart is wit. Wolke, die hemelruim, trappe, 'n koningskroon, 'n oop deur, 'n reënboog van heliumgevulde ballonne en duiwe (wat losgelaat kan word), is gepaste simbole en hulpmiddels vir hierdie viering. Foto's, sketse of kunswerke van die buitenste ruimte en die kosmos behoort ook gebruik te word om mense se siening van "hemel" te verryk en te verruim.

 

Gerhard Bothma