Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Bedieninge » Aanbidding » Kerklike Jaar » Epifanie

Epifanie


2011/01/06

Die Epifaniefees is saam met die Christelike Paas- en Pinksterfees die enigste feeste wat alreeds teen die einde van die tweede eeu op 'n gereelde basis gevier is. Dit val op 6 Januarie en is die eerste keer op die eerste Sondag van die jaar gevier. By dié geleentheid is Markus 1:1-11, waarin dit oor die aankondiging en aanbreek van God se koninkryk en Jesus se doop gaan, gelees. Die gebruik om op die eerste Sondag van die jaar uit die Markusevangelie te begin lees is lank, veral deur die Christene in Noord-Afrika, voortgesit.

 

Toe die Epifaniefees in die vierde eeu deur die kerk in Rome met die vieringe rondom Kersfees verdring is, is die rede vir en inhoud van die fees in die westerse kerk verander. Die kerklike jaar is van toe af nie meer met Epifanie nie, maar met Adventstyd - wat as 'n voorbereidende vastydperk met die oog op Kersfees gedien het - ingelei. Met Epifanie, waartydens die geboorte en die doop van Jesus voorheen sáám gevier is, is die besoek van die wyses uit die ooste en Jesus se optrede by die bruilof te Kana, nou met dié fees gevier. Jesus se doop is in verskeie kringe op die eerste Januarie of op die eerste Sondag van die jaar gevier.

 

In Grieks beteken "epifanie" letterlik "verskyning". Dit kan ook as "bekendwording" vertaal word. Omdat God se teenwoordigheid, verskyning en bekendwording in die wêreld met Epifanie verkondig en gevier word, kan Nuwejaar ook in die seisoen wat rondom dié fees wentel, ingesluit en gevier word. In en deur die persoon en optrede van Jesus van Nasaret, só word hiervolgens bely, en nie die Romeinse god Junius - met die twee gesigte waarvan een terug en een die toekoms in kyk - of enige ander god nie, is God hier bý en mét ons. Ons gaan elke jaar met hierdie geloof binne. "God se tyd" staan nie teenoor "ons tyd" - soos wat dit met die burgerlike kalender aangedui word - nie, maar verloop daarmee saam.

 

As seisoen strek Epifanietyd vanaf Nuwejaar tot op Vasdinsdag. God se Epifanie word op 6 Januarie of op die Sondag die naaste daaraan gevier en veral op die Sondae in Epifanietyd in die liturgie geïntegreer. Op Verheerlikingsondag (6 Maart 2011), die laaste Sondag in dié liturgiese seisoen, word Jesus se verheerliking op die berg (Markus 9:2-8) gevier. Die twee vertellings waarin gestel word dat God Hom oor Jesus verheug en dat Jesus God se "geliefde Seun" is (Markus 1:11 en 9:7), lei Epifanietyd in en sluit dit af. In aansluiting by God se inisiatief, kan ons die jaar opgewonde en dankbaar binnegaan omdat God by, in en rondom en mét ons is.

 

In die Johannesevangelie, wat vanjaar gedurende Epifanietyd behandel word, sien ons dat God in en deur Jesus na mense toe gekom het en onder hulle kom woon het, asook hoe sy koninkryk uitbrei. Die verskillende motiewe en simbole in die evangelie kan met kreatiwiteit vir die gemeente aktueel gemaak word.

 

SIMBOLE, KLEURE EN GEBRUIKE IN EPIFANIETYD

 

Van die bekendste simbole vir Epifanietyd is lig (wat nie uitgedoof kan word nie), water (wat lewe gee), identiteit, roeping (om tot seën te wees vir ander) en (uitbundige) vreugde. In aansluiting by die motief van lig, kan 'n ster, kers(e) en lantern(s) as simbool van lig in duisternis gebruik word. Die vyfpuntige Ster van Betlehem (met 'n glans daarom) is 'n gepaste simbool in hierdie tyd.

 

Wit of wit en goud (om die geskenke wat die wyse manne gebring het en God se heerlikheid uit te beeld) kan met die Epifaniefees en op Verheerlikingsondag gebruik word. Groen moet hiermee saam gebruik word om die kerk se groei en uitreik in die wêreld te simboliseer.

 

Wanneer die doop bedien word, verkieslik met Epifanie of op die naaste Sondag daaraan, moet veral die inisiatief wat God in die verlossing én die alledaagse lewe neem, beklemtoon word. Met nagmaal, verkieslik op Verheerlikingsondag, kan die brood en wyn met die woorde "God is hier teenwoordig", "Ons is gedoop" of "God se lig skyn deur ons", aangegee word. Omdat niemand genoeg daaraan herinner kan word dat ons God se kinders is en dat Hy Hom oor ons verheug nie, moet dit gereeld in Epifanietyd gedoen word, maar veral met die bediening van die sakramente.

 

Oorweeg dit om 'n kandelaar met sewe kerse op 'n prominente plek in die liturgiese ruimte te plaas. Steek dan elke Sondag in die seisoen tydens die erediens een van die kerse aan terwyl een van die sewe "Ek is"-uitsprake in die Johannesevangelie gelees word. Dit is ook wenslik dat gemeentes hulleself en hulle aktiwiteite doelgerig binne die gemeenskap waarin hulle hulleself bevind, in hierdie seisoen bemark. Geleenthede waar saamgekuier word en verhoudinge geskep en gebou word, kan ook gereël word. Ons kan baie doen om mense wat nie soos ons glo nie, deur ons gasvrye omgang met hulle, iets van God en sy teenwoordigheid te laat ontdek en te laat ervaar. Dit is veral nodig wat mense, wat met die jaarwisseling verhuis het en hulle in 'n nuwe gemeenskap vestig, betref. Help mense om te kan glo dat God hier teenwoordig is.

 Gerhard Bothma