Skip to content | Skip to navigation

Bedieninge » Aanbidding » Kerklike Jaar » ADVENT / KERSFEES

ADVENT / KERSFEES


2009/11/25

Advent is die begin van die viering van die kerklike jaar.  Die woord Advent beteken koms.  In hierdie tyd dink ons nie net aan Jesus se eerste koms nie, maar ook sy wederkoms.  Advent is 'n tyd van verwagting.  Dit herinner ons dat ons tussen die tye leef, tussen die tyd van Jesus se eerste koms en die tyd van sy wederkoms.  In hierdie tyd beleef ons, in 'n sekere sin,  die spanning tussen hierdie twee tye baie akuut:  tussen die reeds en die nog nie. 

 

Met die eerste koms van Jesus het die eindtyd aangebreek.  "Die koninkryk van God het naby gekom …"  (Mark 1:15).  Advent se boodskap is dat God met krag in hierdie wêreld ingebreek het en besig is om alles nuut te maak.  God het in die persoon van 'n mens na die wêreld gekom om alles met Homself te versoen  Maar die volle heerlikheid het nog nie aangebreek nie.  Eers wanneer Jesus weer kom, kom die koninkryk in sy volle glorie en word alles finaal nuut en heel gemaak.

 

Intussen leef ons met die spanning van die koninkryk van God wat reeds gekom het, maar nog nie in sy volle heerlikheid nie.  Daarom roep advent ons om in hierdie "tussentyd" aktief die belange van die koninkryk te bevorder.

 

Advent loop uit op Kersfees en verder na Epifanie.  In hierdie tyd loop ons die pad van hoop na vreugde.  Kersfeestyd duur vanaf 25 Desember tot en met 5 Januarie, 'n tydperk van twaalf dae, die sogenaamde "Twelve days of Christmas".  Die vernaamste simbool in Advent sowel as Kersfees is lig – die Lig wat na die wêreld gekom het en wat nie deur die duisternis uitgedoof kon word nie.  Tradisioneel word van kerse gebruik gemaak om hierdie simbool te dra.

 

In Adventstyd word vier kerse in 'n adventskrans geplaas met 'n groter Christus-kers in die middel.  Met elkeen van die vier adventsondae word 'n kers aangesteek, totdat al vier kerse brand.  Op Kersdag brand net die Christus-kers.

 

Kobus Myburgh